Covid-19 neem ma van pasgebore baba

Foto: Times Live

KAAPSTAD. – Anishca Morris het weens Covid-19 in die Groote Schuur-hospitaal gesterf sonder dat sy haar pasgebore baba kon sien. Sy laat ook ’n vierjarige seuntjie agter.

Volgens Times Live het Deidre Morris, Anishca se ma, gesê haar dogter het die 9de Desember siek geraak en is na die False Bay-hospitaal geneem. Sy is met verkoue gediagnoseer en ’n Covid-19 toets is gedoen. Sy is huis toe gestuur met medisyne. Die volgende dag het haar uitslae as positief teruggekom. Sy het later koors ontwikkel en het medisyne gedrink en gaan rus.

Anishca se baba het nie genoeg suurstof gekry nie

Anishca was in en uit die hospitaal en die 12de Desember is dit vasgestel dat Anishca se baba nie genoeg suurstof kry nie. Sy is toe oorgeplaas na die Groote Schuur-hospitaal waar sy ’n keisersnee gehad.

“Sy was in die Covid-19-kraamsaal en was geskuif na die gewone Covid-19-saal. Sy het my gebel en gesê sy het Covid-19-longonsteking.” Die baba is toe ontslaan.

Op Kersdag het sy haar ma gebel en gehuil omdat sy nie haar baba kon sien nie. Sy het ook gesê hoe vreeslik baie sy na hulle verlang.

Morris sê sy het elke dag foto’s van die baba vir Anishca gestuur. Die 4de Januarie is sy na die intensiewe eenheid oorgeplaas. “Die 11de Januarie is sy weer oorgeplaas na ’n gewone saal toe en die dokters het gesê ek kan haar gaan sien. Sy het nie soos my kind gelyk nie; sy was geswel.” Die 14de Januarie het die dokter die familie laat weet dat hul twyfel of sy dit deur die nag gaan maak. Net na middernag is die familie in kennis gestel dat sy oorlede is.

“Vir my is sy nie dood nie”

“Ek het nie woorde nie, ek weet nie of ek moet huil of skree nie. Ek voel nie my kind is dood nie, dit voel of sy nog in die hospitaal is. Vir my is sy nie dood nie.”

Die baba is in Morris se sorg geplaas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: