January 20, 2021

My baba het kort na geboorte gesterf

Foto: Hanelie Heyn

Hanelie Heyn (28) het op haar 26ste verjaarsdag uitgevind sy verwag. Sy en haar kêrel het gehoop vir ’n seuntjie. Haar swangerskap het goed verloop en sy het geen komplikasies gehad nie.

Op die 2de Junie het sy ’n snaakse gevoel gekry en haar ma het aanbeveel dat sy hospitaal toe  gaan. Na ’n besoek aan die hospitaal is sy weer huis toe gestuur. Die volgende dag het sy teruggegaan en was vier cm ontsluit. “Ek het baie pyn gehad en die dokters het besluit om ’n noodkeiser te doen.” Hanelie het die vierde Junie, vroeg die oggend, ingegaan teater toe.

“Ek onthou ek was baie verwar en kon nie verstaan hoekom hy ewe skielik so stil was nie”

Hanelie en haar kêrel het voor die teater gesels oor hoe opgewonde hulle is en oor die nege maande wat uiteindelik verby is. “Ek onthou hulle het my baba uitgehaal en hy het gehuil, ek was so verlig en so opgewonde om hom vas te hou.” Sy sê die baba se huil was vir haar so mooi, maar hy het nie lank gehuil nie, toe was daar stilte. “Ek onthou ek was baie verwar en kon nie verstaan hoekom hy ewe skielik so stil was nie.” Kort daarna is Hanelie uit die teater gestoot en sy het in die gang gewag.

“Ek het baie bekommerd geraak” ’n Dokter het na Hanelie en haar kerel gegaan en gesê die baba het vrugwater gesluk en die naelstring het om sy nek gedraai. Hulle was nie seker of hy dit sou maak nie. “Ek het my oë toegemaak en die Here gevra om my seuntjie te spaar.” Kort daarna het die dokter teruggekom met baie slegte nuus. “Ons het gevra om klein Tyrique se liggaam vas te hou, ons families was in kennis gestel en almal het saam met ons kom afskeid neem.

“My kind se dood het my nader aan God gebring”

“My kind se dood het my nader aan God gebring. Na baie baklei het ek aanvaar dat God ons enige tyd kan kom haal, tot sekondes na geboorte. Party dae is dit moeilik, maar God het ons gedra en my engelkind het my en my nou verloofde se verhouding baie sterker gemaak.”

“My boodskap aan ander mammas is: Praat van jou baba, brand ’n kersie op sy/haar verjaarsdag, hou moed dit is nie maklik nie. Jy kom nooit oor die pyn nie, jy leer maar net om saam met die seer te lewe. Ons pyn help ons om te onthou hoe kosbaar hulle is.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *