January 24, 2021

Bene kan gevaarlik wees vir jou hond

Foto:Pixabay

Daar is niks wat jou hond besiger hou as ’n been nie. Honde geniet dit vreeslik baie om aan bene te kou. Volgens Dogtime is dit egter gevaarlik om enige been vir jou hond te gee om te kou.

Moet nooit vir jou hond gaargemaakte bene gee nie. Bene wat gaar is, breek en splinter baie maklik. Dit kan mondbeserings veroorsaak, die splinters kan jou hond se mond binne stukkend steek terwyl hulle daaraan kou. Gaargemaakte bene is geneig om binne-in ’n hond se mond vas te sit. Dit kan lugpyp-, slukderm- of gastro-intestinale verstopping veroorsaak. Die splinters van die been beskadig die maagwand van die hond en veroorsaak peritonitis, ‘n bakteriese infeksie in die buik wat veroorsaak word deur lekke in die maag of ingewande.

Bene wat jy vir jou hond by ’n troeteldierwinkel koop, is veronderstel om veiliger as ’n regte been te wees, maar die FDA waarsku hierdie bene kan dieselfde gevare vir jou hondekind inhou. Dit kan gastro-intestinale verstopping, diarree en braking, asook rektale bloeding veroorsaak.

Groot, rou bene is die veiligste om vir jou hond te gee, maar dit hou steeds gevare in. Dit kan bakteriese besmetting veroorsaak of jou hond kan verstik.

Die volgende is ’n paar wenke vir as jy wel vir jou hond ’n rou been wil gee:

  • Hou toesig oor jou hond. Kyk ten alle tye dat die hond nie verstik nie.
  • Gooi bene wat alreeds erg stukkend gekou is weg. Dit kan na ’n tyd begin splinter of die hond kan daaraan verstik.
  • Moenie ’n been aan jou hond gee as jy weet hy/sy gaan groot stukke afbyt en insluk nie.
  • Gee ’n groot been sodat jou hond dit nie heel insluk nie.
  • Gee die hond slegs 10 tot 15 minute kans om die been te kou. Dit help om beserings te voorkom.
  • Vries bene sodat jou hond later weer daaraan kan kou.

Om bene te kou, is natuurlik en gesond vir honde. Dit hou hulle tande gesond, gee kalsium aan die liggaam en kan help om angs te verlig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *