KIMBERLEY. – “Die polisie het vanmiddag hier aangekom en hulle wou Steers toemaak omdat hulle glo een van my werkers gisteraand na 21:00 in die straat gekry het,” sê JP Smit, algemene bestuurder van Steers Monument Heights.
Die polisie het vanmiddag ongeveer 13:00 by Steers opgedaag en gedreig om die deure van die winkel te sluit. Smit sê die polisie het na ‘n blou motor gewys wat hulle gisteraand afgetrek het, maar die eienaar van die motor sê hy was deur geen polisie afgetrek nie. Hy sê al sy werknemers het wel permitte.
“Al my werknemers het permitte. Ons maak 20:00 toe en dan maak hulle die winkel skoon. Die dag nadat die president die land toegespreek het, het ek my werkers hulle permitte gegee. Die permitte is deur my onderteken en het die werk se stempel op.”
Smit sê a.o. Thomas het aan hom bevestig sy permitte is korrek.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die polisie het nie die Steers-werknemers of die Steers-bestuur geteiken nie.
“Daar word van noodsaaklike dienswerkers verwag om ‘n werkspermit met inligting van beide die werkgewer en die werknemer te hê, onderteken deur die werkgewer en die werknemer.”
Volgens Tawana sal die polisie voortgaan om ondersoeke by restaurante en kleinhandelaars uit te voer, om te verseker die inperkingsregulasies word nagekom.
Smit het aan FiND iT gesê die polisie het vanaand na 20:00 weer by Steers opgedaag om te kyk of sy winkel wel gesluit is.
“Ek oortree nie die wet nie. Ek verskaf net werk aan mense.”
Tydens hierdie tyd was KFC se mense ook nog in die winkel besig, maar geen polisielede het hulle gemonitor nie.



