January 24, 2021

Borsel asseblief jou hond se tande!

Ons gee baie om vir ons honde en ons probeer alles in ons vermoë om seker te maak hulle het ’n lang en goeie lewe. Jy kan begin deur jou hond se tande te borsel.

Volgens VCA kan die plaak op jou hond se tande lei na periodontale siektes, dit is die ontsteking van die weefsel om die hond se tande. As dit onbehandeld gelaat word, kan dit tot ’n pynlike verlies van tande lei. Dit word aanbeveel jy borsel minstens drie keer ’n week jou hond se tande. Dit is die beste om jou hond van kleins af te leer van tandeborsel, ’n Ouer hond sal bietjie meer geduld verg, maar dit is die moeite werd.

Jy moet die regte tandeborsel gebruik. Daar is verskeie soorte tandeborsels vir honde beskikbaar by troeteldierwinkels en veeartse. ’n Baie gewilde een is die vingertandeborsel wat die hele proses baie vergemaklik. Tandepasta geskik vir jou hond is beskikbaar by troeteldierwinkels. Moet nooit tandepasta gemaak vir mense gebruik nie. Dit is giftig vir honde, aangesien dit sodium en Xylitol bevat. Die hondetandepasta is beskikbaar in ’n verskeidenheid geure, wat dit lekker sal maak vir jou hond.

Jy moet begin deur jou hond gewoond te maak aan die tandeborsel. Kies ’n rustige tyd en gebruik ’n lappie en jou vinger om stadig oor die hond se tande te vryf. Wanneer jou hond gemaklik daarmee is, kan jy ’n hondetandeborsel gebruik. Moenie te hard druk nie, jy wil nie die hond se tandvleis beskadig nie. Moenie jou hond ontstel deur te vinnig te beweeg nie, dit moet ’n plesierige ervaring vir die hond wees en hy moet na die tyd beloon word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *