Steven Brandenburg (46), ’n Amerikaanse apteker in ’n hospitaal, is in hegtenis geneem nadat hy na bewering honderde Covid-19-inentings uit die yskas gehaal het om dit te vernietig.
Die inentings moet teen baie lae temperature geberg word, anders kan dit beskadig of vernietig word. Dit is wat Brandenburg glo by twee geleenthede probeer doen het. Hy het ook tevore van die inentings uit die yskas gehaal voordat dit aan 57 pasiënte gegee was.
Samesweringsteoretikus
Volgens die hospitaaloperateur is die pasiënte in kennis gestel en daar is geen bewyse dat die beskadigde entstowwe hulle benadeel het nie. Hy is na die twee voorvalle afgedank en die hospitaal het die owerhede, waaronder die FBI, in kennis gestel gestel. Hy is in hegtenis geneem.
Brandenburg, ’n samesweringsteoretikus, het aan die ondersoekers gesê hy glo die Covid-19-inenting is nie veilig vir mense nie en dit kan hulle benadeel en hulle DNA verander. Owerhede en kundiges sê verkeerde en misleidende inligting hou ’n bedreiging in teen die bestryding van die virus.



