Cassandra se kabels: Wat gaan aan?

KIMBERLEY. – Hoeveel keer moet kragkabels in Cassandra nog gesteel word voor daar opgetree word? Vir die laaste twee jaar word kragkabels bykans weekliks gesteel en inwoners word dae sonder krag gelaat.

Hoekom word Cassandra se kabels gesteel?

Kabels word vir die koper gesteel. Die kabel word gewoonlik in die nag in die veld opgegrawe en gesteel. Inwoners van Cassandra het ’n vrywillige buurtwag groep gestig waar daar in die nag patrollie gehou word om kabeldiefstal te voorkom, maar steeds word die kabels gesteel.

Weer poging tot kabeldiefstal

Daar was gisteraand omstreeks 23:00 weer ’n poging tot kabeldiefstal nadat daar Sondag 27 Desember 2020 reeds kabels gesteel was. Inwoners was weer vir dae sonder krag gelaat.

Polisie bied nie hulp nie

Volgens ’n inwoner van Cassandra bied die polisie nie veel hulp nie. Die polisie het Sondag glo nie eers opgedaag nie en gisteraand het hul glo nie ’n hond gehad wat spoor kon sny nie. “Ons het klere en ander besittings in die veld gekry en wou gehad het die polisie moet die diewe se spoor sny, maar hulle het gesê hulle het nie honde nie.”

Polisie lewer kommentaar

Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê daar is geen saak van kabeldiefstal of poging tot kabeldiefstal vir die week aangemeld nie. “Ek sal almal aanraai om ’n saak by die polisie te maak, al was dit net ’n poging.”

Jansen sê ook die polisie stuur ’n taakspan uit wat die area gaan patrolleer. “Daar is wel om en by 10 kg se koperkabels in die bos in die area gevind, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *