BISHOPSTOWE. – Die 58-jarige Daniël de Bruin se liggaam is ‘n paar meter buite die plaashuis gevind. Sy vrou, Glynis (60), se liggaam is in die kombuis aangetref en Collin de Bruin (84) se liggaam is buite sy kamer gevind.
‘n Arbeidsdispuut is volgens kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, vermoedelik die oorsaak van die driedubbele moord wat Maandag op die plaas op Bishopstowe plaasgevind het.
“Daar was glo twee weke gelede ‘n arbeidsdispuut tussen Daniël de Bruin en sy werknemers op die plaas,” sê Mbele. “Die plaas is toegemaak en die werknemers is na ‘n informele nedersetting geskuif. Twee van die werknemers was nie gelukkig met De Bruin se besluit nie.”
Volgens Mbele het die twee verdagtes Maandag die plaas se snoepwinkel besoek. Hulle het skyfies gekoop en toe hulle De Bruin daar raakloop, het hulle aanmerkings gemaak, sê hy.
“Toe ‘n ander boer later De Bruin se seun bel om hom in te lig die plaas brand, was daar nie antwoord nie en het hy besluit om te gaan ondersoek instel. Dis toe dat hy op die drie liggame afgekom het.”
Volgens Mbele het al drie steekwonde aan hulle koppe en nekke gehad.
Die twee verdagtes van onderskeidelik 27 en 35 jaar oud is in hegtenis geneem en verskyn Donderdag op aanklagte van moord in die Pietermaritzburg-landdroshof.



