President Ramaphosa het vanaand in sy toespraak gepraat oor die kabinet se reaksie op die onlangse styging in Covid-19-infeksies in sekere Covid-19-brandpunte.
“Suid-Afrika is nou 16de op die lys van infeksiesyfers in die wêreld. Ten spyte van die vordering wat ons tot dusver gemaak het, is ‘n tweede vlaag steeds realiteit en moet ons steeds versigtig wees,” sê hy.
Ramaphosa sê verder dat hy bekommerd is oor die sosiale byeenkomste wat steeds deur Suid-Afrikaners bygewoon word. Hy sê meeste van die geleenthede word in plekke gehou waar min ventilasie is.
Verder sê hy alkohol het ook ‘n invloed op stygende Covid-19-gevalle, maar die grootste rede vir infeksies bly steeds die gebrek aan maskers dra, sosiale distansiëring en higiëne.
“Ons hoofprobleem is dat daar plekke in die land is waar mense nie maatreëls gehoorsaam nie.”
“As ons hierdie virus met ‘n veldbrand vergelyk, moet ons dit vinnig en so goed as moontlik blus, voordat dit in ‘n groot brand ontaard.”
Sekere inperkingsmaatreëls in spesifieke Covid-19-brandpunte sal geïmplementeer word.
“Na die kabinet en die koronavirusraad vergader het, het ons besluit om die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse-gebied as ‘n Covid-19-brandpunt te verklaar.
‘n Aandklokreël sal in hierdie area tussen 22:00 en 04:00 ingestel word.
Alkohol sal slegs op Maandae tot Donderdae tussen 10:00 en 18:00 toegelaat word.
Alkoholgebruik sal ook glad nie in openbare areas toegelaat word nie.
Die aantal persone wat beenkomste, insluitend geloofsbyeenkomste, bywoon, mag nie meer as 50% van ‘n plek se kapasiteit oorskry nie.
Die nasionale ramptoestand word tot op 15 Januarie verleng.”



