KIMBERLEY – Greenpoint-inwoners is woedend na ‘n skietery vanmiddag in dié gebied plaasgevind het.
Volgens Camilla Roman, een van die omstanders, was die inwoners rustig onder ‘n boom toe die polisie daar opgedaag het en ‘moeilikheid gemaak’ het.
“Die polisie het drie skote afgevuur en drie mense is beseer. ‘n Vrou in ‘n rolstoel ook,” sê Roman. “Nou dat ons probeer om die polisie te bel, sit die ontvangs die foon net in ons ore neer.”
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die polisie het die groep mense genader om uit te vind waarom hulle vergader.
“Dis toe dat die polisie met klippe en bierbottels gegooi is,” sê hy. “Een polisielid het as gevolg hiervan seergekry. Gemeenskapslede het ook probeer om die sleutels uit ‘n polisievoertuig te haal.”
Die polisie moes volgens kapt. Tawana van die nodige geweld gebruik maak om die groep gemeenskapslede onder bedwang te bring.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek die saak.



