‘Dit het met ‘n sigaret begin’

Deel hierdie storie / Share this story

“Daar was ’n stadium wat ek wakker geword het en eers ’n halwe bottel brandewyn moes sluk voordat ek met die dag se take kon aangaan. Ek moes met my botteltjie werk toe gaan om deur die dag te kom. Ek moes altyd iets by my gehad het,” vertel Cecil Botjes (60) van die 40 jaar wat hy met verslawing gesukkel het.

Botjes sê die ding het eintlik met ’n sigaret begin. “Soos dit maar vir almal begin. Ek het in graad agt my eerste sigaret gerook. Ons het in graad 9 vir die eerste keer ’n 2 ℓ-wyn gekoop. Daai eerste high was vir my die beste. Ek het gehou van hoe ek gevoel het en wou daarvan ’n gewoonte maak. Natuurlik was daar ’n paar ouens wat nie wou nie, so ek het toe maar besluit om op my eie aan te gaan.”

Hy vertel hoe hy toe elke Vrydag met dié gewoonte aangehou het. “Ek het in graad 10 by die ou inry begin werk. Daar het ek die tyd, die geld en die geleentheid gehad om te kon aanhou daarmee. Ek is ’n hele paar keer gevang en het pak gekry!”

Ná skool is Botjes weermag toe. “Ek het net aangehou. Ek meen, ’n bier was goedkoper as ’n koeldrank,” lag hy. “Toe ek ná die weermag skofte begin werk, het my lewenspatroon verander. Wanneer ek in die oggend van my skof af gekom het, is die vrou mos by die werk en die kinders by die skool. Dit was vir my mos soos aand, so ek het voor agtuur die oggend al begin drink. Soms het ek vergeet om te gaan slaap en dan is ek net so weer werk toe.”

Botjes vertel hoe hy met ’n ultimatum te doen gekry het toe sy vrou vir hom gesê het dat hy óf rehabilitasie óf ’n egskeiding in die gesig sal moet staar.

“Ag, ek was rehabilitasiesentrum toe, maar ek was daarna so mislik. Ek het gevoel ek sal hulle wys ek drink nie, maar ek was heeltyd so mislik. Ná ons uiteindelik geskei het, het ek eers begin dagga rook. Ek het later met ander dwelms ook geëksperimenteer. Dit was soos ’n wonderkuur vir die babelas. Crack, cocaine, LSD… Ag, ek het gevat wat ek kon kry.”

Botjes sê sy verslawing het so ’n probleem geraak dat hy net eenvoudig nie kon stop wanneer hy eers begin het nie. “Ek het vir géén rede opgehou as ek begin het nie. Ek het soms net opgehou eet. Elke af en toe het ek besluit om rehab toe te gaan sodat ek net weer ’n bietjie nugter kon wees. Ek was so honger en lus vir kos, maar kon niks in my lyf kry nie. ’n Paar weke in die rehab kon dit verander. Ek was in totaal ses keer gerehabiliteer.”

Botjes vertel dat hy gelukkig nooit in die posisie was dat hy moes steel om sy gewoonte te onderhou nie. “My salaris was gelukkig altyd voldoende. Ek het my maand gebudget. Die eerste week whiskey, die tweede week brandewyn… Ek was net aanvanklik in denial en het daarop aangedring dat ek nié ’n probleem het nie.”

Dan vertel Botjes dat hy in die 40 jaar deur drie egskeidings is. “Op die ou end was my probleem maar die oorsaak van die egskeidings.”

“Ek was gelukkig nooit op ’n fisiese laagtepunt gedurende dié tyd nie,” sê hy. “Ek het myself egter gereeld op plekke bevind waar ek nou, nugter, nooit ’n voet sal sit nie.”

Dan vertel Botjes van hoe hy uiteindelik finaal kon ophou. “Dit was in 2009 dat ek besluit het ek wil ophou. Dit was later nie meer die dranklus wat veroorsaak het dat ek van tyd tot tyd gestruikel het nie. Ek het gesukkel om te weet wie ek is. Sedert ek in 2015 besluit het dat ek na die waarheid in myself moet begin soek, het ek al soveel meer geleer. Ek het gaan sit en dink oor wat ek alles gemis het en die jare wat ek verloor het, het my kwaad en teleurgesteld gemaak, maar ek kon gelukkig daarmee vrede maak.”

Oor sy pad sedert sy besluit, sê Botjes was dit vir hom aanvanklik moeilik om van sy vriende afskeid te neem. “Eintlik was hulle ook maar net drinkebroers en nie ware vriende nie.”

Botjes het ’n sterk ondersteuningstelsel. “My vriende en familie het aanvanklik skelm gedrink wanneer ek in die omtrek was. Ek het hulle later daaroor konfronteer. Ek het net gevoel ek het my kwota uitgedrink. Dis amper asof ek wil sê dat ek allergies is. Mense kan voor my drink, ek wil net nie meer nie.”

“Aan enigiemand daarbuite wat moontlik met verslawing sukkel, onthou het, dis ’n mindset. Jy moet ’n doelbewuste besluit neem om jou lewe te verander voordat jy dit sal regkry,” sê Botjes. “Ek is eintlik dankbaar vir die dinge waardeur ek is. Ek het soveel lesse geleer. Dit gaan nie meer oor wat gebeur het nie, maar oor wat vorentoe gaan gebeur.”