TURKYE – Mehmet Ali Durak het vir 30 jaar lank met verskriklike letsels van brandwonde aan sy gesig geloop na hy as ses maande oue baba gebrand het.
Hy kan nou egter, danksy rekonstruktiewe chirurgie, weer ’n meer normale lewe lei.
Durak se ma het hom vir oomblikke by die huis gelos toe sy gou uitgeglip het om melk te gaan koop. Toe sy terugkeer, was haar huis in vlamme. Sy het vinnig ingehardloop om Durak te red na die vlamme reeds aan hom begin vreet het.
Durak moes vir 47 dae in ’n waakeenheid opgeneem word. Sy gesig en sy bors is deur die vlamme gebrand en hy het sy vermoë om te praat en gemaklik te loop, verloor.

Die Akdeniz- akademiese hospitaal het in Augustus vanjaar begin om vir hom ’n nuwe gesig te ‘bou’. Die eerste fase van sy rekonstruksie het behels dat dokters vel van sy been en middellyf geneem het om op sy gesig en kop oor te plant. Die operasie het byna agt uur lank geduur.
Die tweede fase lê nog vir Durak voor en hy sien uit daarna om met ’n nuwe gesig ’n nuwe lewe te begin.



