November 30, 2020

Boere op N12 moedeloos na hoeveelste veediefstal

HOPETOWN. – ’n Boer tussen Hopetown en Strydenburg is woedend nadat ’n buurplaas se skape weereens gisteraand geslag is. Altesaam 32 stuks vee is geslag en agtergelaat.

“Hiérdie gebeur elke aand. Minstens elke aand word daar vee gesteel en geslag,” sê Paul van Niekerk, boer van die omgewing. Van Niekerk sê daar is gisteraand 17 ooie en 15 lammers geslag. Hy sê die verdagtes het nie tyd gehad om die geslagte diere weg te dra nie.

Verdagtes gesoek

“Die veekampe het alarms. Almal in die omgewing is dadelik in kennis gestel van die voorval om die verdagtes te kom help soek. Ek self was in daardie stadium in die veld, maar ons kon hulle nie vang nie,” sê Van Niekerk. Hy sê hulle is bekommerd oor die Kerstyd wat naderkom. Diefstalvoorvalle vermeerder gewoonlik oor feestyd.

Volgens Van Niekerk word daar al ’n jaar lank patrollies in die omgewing gehou. Hy sê die boere het al ’n paar keer self die verdagtes gevang wat vermoedelik vee steel. Van Niekerk vertel die boere het eenkeer die N12 gedeeltelik toegemaak om die polisie se aandag te kry sodat meer hulp aan die boere verleen kan word.

Plase het hulp nodig

“Kimberley se veediefstaleenheid se wyke waarin hulle werk, strek baie ver. Prieska se plase val ook onder Kimberley se eenheid. Die eenheid wat altyd op De Aar was, het verlede jaar toegemaak. Hulle sal iets aan die probleem moet doen. Die plase het hulp nodig.”

Volg FiND iT hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *