Twee vermeende veediewe in die hospitaal na skietgeveg op plaas

Foto: KLK Landbou

VRYSTAAT – Twee verdagtes is Woensdag in hegtenis geneem na ’n skietery tussen hulle en die polisie op ’n plaas in die Vrystaat plaasgevind het.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het ’n boer die polisie in kennis gestel dat 54 van sy skape gesteel is. Hy kon vasstel in watter rigting die spore van die vermeende veediewe lei en het die polisie daarvan in kennis gestel.

“Lede van die polisie se veediefstaleenheid het op die plaas gaan spoorsny en terwyl hulle met hulle ondersoek besig was, het die veediewe op die boer begin skiet,” sê Makhele. “’n Skietgeveg het toe tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek.”

Een van die verdagtes (20) is deur een van die gemeenskapslede met ’n knopkierie en sambok bygedam voor die polisie hulle verskyning gemaak het. Een van die ander verdagtes (25) is in die been geskiet tydens die skietgeveg. Die polisie is nog na ’n derde verdagte op soek.

Die twee beseerde verdagtes is in die hospitaal opgeneem vir behandeling.

Die polisie kon 53 van die skape op ‘n plaas naby Thaba Nchu opspoor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: