KWAZULU-NATAL. – ’n Seun (4) is dood nadat hy byna 15 meter deur ’n venster van ’n derde verdieping van ’n woonstel geval het.
Aanvanklik het die ouers van die kleuter gesê die ma en stiefpa het gestry toe die kind na bewering deur ’n oop venster gedruk is. Armaan Cassim het lewensgevaarlike beserings opgedoen en is inderhaas na die Umhlanga-hospitaal vervoer waar hy later aan sy beserings beswyk het. Sy liggaam is daarna na die Mahatma Gandhi Memorial Hospital (MGMH) vervoer waar ’n lykskouing gedoen is.
Verskeie oproepe is van die kind se familie ontvang wat verklaar het dat die seun vermoor is en dat sy ma (30) en haar man (39) gevlug het. Vier volwassenes was tydens die voorval in die woonstel.
Later is ’n anonieme oproep ontvang van ’n man wat glo ’n buitelandse burger is en beweer dat die kind tydens ’n rusie by die venster uitgegooi is. Hy het die oproep beëindig sonder om verdere besonderhede te gee met ’n belofte om later reaksiebeamptes te ontmoet en ’n verklaring aan die ondersoekbeampte te gee.
Daar is tans ’n ondersoek na die kind se dood aan die gang.



