Sewe keer lewenslange tronkstraf en 300 jaar gevangenisstraf vir reeksverkragter

Deel hierdie storie / Share this story

OOS-KAAP. – Die Mdantsane-reeksverkragter, Malibongwe Ncokolo (44), is gister in die hooggeregshof in Bisho tot sewe lewenslange vonnisse en 300 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Ncokolo, wie se inhegtenisneming op 7 Junie 2017 die einde van ’n nagmerrie vir baie Mdantsane-meisies en -vroue aangedui het, is na bewering sedert 2014 verantwoordelik vir herhaalde aanvalle van verkragting tot sy inhegtenisname in 2017.

Sy inhegtenisneming kom nadat hy ’n 14-jarige meisie op 6 Junie 2020 probeer verkrag het. Tot sy verbasing het die sterk en dapper jong vrou daarin geslaag om hom met albei voete op sy bors te skop. Hy het teen ’n steil helling afgerol en die jong meisie het daarin geslaag om te hardloop en hulp te ontbied.

Die verdagte is deur ’n groep gemeenskapslede agtervolg, maar het daarin geslaag om te ontsnap. ’n Dag na sy gelukkige ontsnapping is hy deur die gemeenskap by sy huis aangekeer. Die polisie het net betyds gekom en hom in hegtenis geneem. Sy bloedmonster is geneem en na ’n Kaapstadse laboratorium gestuur. Hy is met verskeie verkragtingsake in Mdantsane-omgewing verbind.

Twaalf van die 22 slagoffers is minderjariges tussen die ouderdom van 9 en 15. Na bewering het hy hul bewegings van die huis na die skool en terug dopgehou vanuit die plaaslike karwasplek waar hy werksaam was.