POTCHEFSTROOM. – ’n Vier maande oue babaseuntjie is Woensdag omstreeks 14:00 op die hoek van Kock- en Chris Hanistraat ontvoer. Die ma van die baba het glo die mense wat haar baba ontvoer het, geken.
Kapt. Aafje Botma, polisewoordvoerder, sê die ma (20) het op 4 November 2020 saam met ’n vrou, wat glo haarself as ’n SASSA-werker voorgestel het, gegaan om haar baba te registreer.
“Hulle het saam in ’n taxi vanaf Ventersdorp tot in Potchefstroom gery, waar hulle toe in ’n rooi Toyota Tazz geklim het. Die bestuurder van die voertuig het by verskeie plekke in Potchefstroom gestop voordat hy by ’n winkel op die hoek van Kock- en Chris Hanistraat gestop het.”
By die winkel het die vrou glo vir die ma geld gegee om iets te koop om te eet. Toe die ma uit die winkel uitkom, was die kar weg.
Die polisie ondersoek tans ʼn saak van ontvoering. Enige persoon met meer inligting kan die ondersoekbeampte a.o. Jaco Jonker by 082 568 9036 skakel.



