KWAZULU-NATAL. – Drie verdagtes tussen 30 en 32 jaar oud staan tereg op ’n aanklag van ontvoering en moord nadat hulle glo ’n man (46), wat R1,3 miljoen van die Padongelukkefonds ontvang het, ontvoer en vermoor het.
Na bewering is die slagoffer in Junie by Ntsikeni ontvoer en sy gesin het na hom probeer soek. In hul soeke het hulle na sy telefoon gebel en ’n onbekende persoon het ’n losprys van R10 000 vir sy vrylating geëis.
Die familie het die saak by die polisie aangemeld en ’n soektog het onmiddellik plaasgevind. Twee weke later is die lyk van die slagoffer, geboei en met skietwonde, gevind. Die meedoënlose ondersoek het uiteindelik goeie resultate opgelewer toe die drie opgespoor en in hegtenis geneem is.



