Klippie na agt jaar uit meisie (12) se neus verwyder

Deel hierdie storie / Share this story

MOKOPANE – “Sy is so opgewonde. Sy sê sy kan klaar voel daar is ‘n verskil in haar neus en onder haar oog. Sy sê dit voel baie ligter. Ons is nou op pad om vir haar ietsie te koop om te eet.”

Foto: Só lyk die klippie wat vir agt jaar in Chardoné van Greunen (12) se neusie vasgesit en haar lewe soveel moeiliker gemaak het.

Jacoelien Krause, Chardoné se ma, sê die dokter kon sonder om aan haar dogter se neus te sny, die klippie deur haar neus verwyder. “Die dokter sê alles lyk goed. Dit lyk nie asof die klippie permanente skade in haar sinuskanaal veroorsaak het nie. Dankie Vader dat U U hand oor ons poppie gehou het.”

Die klippie het sedert Chardoné vier jaar oud was in haar neus vasgesit. Haar neusie het soveel as ses keer per dag gebloei en dokters en verpleegsters kon nooit vasstel wat die bloeding veroorsaak het nie. Lees meer hier.

Jacoelien sê die dokter vermoed Chardoné het dié klippie in haar mond gehad toe sy geval en verstik het. Aangesien die klip te groot is om by een van haar neusgate te kon ingaan, vermoed hy dis hoe die klip in haar sinuskanaal beland het.

“Sy hoef gelukkig nie oor te slaap nie. Die dokter kon daardie hele klippie uit haar neus verwyder sonder om te sny,” sê Jacoelien verlig.

“Agt jaar lank en niemand sien daardie yslike klip raak nie. Ek is eintlik woedend oor hulle my kind deur soveel seer gesit het. Ons is so dankbaar dat dit uiteindelik verby is.”