PRETORIA – Die 19-jarige Dylan Joubert was vir nege dae vermis voordat sy liggaam in ’n staatslykshuis gevind is.
Hy is dieselfde dag dat hy vermis geraak het, deur ’n motoris raakgery en weens ’n gebrek aan ’n identiteitsdokument, kon niemand hom identifiseer of sy gesin in die hande kry nie.
Maroela Media berig Riaan de Beer, Dylan se pa, het op 9 Oktober omstreeks 18:00 met Dylan gepraat voordat die oproep afgesny is. Riaan kon toe hoor sy seun is op pad werk toe.
Dylan het toe nie by sy werk opgedaag nie. Sy werkgewer het ook geen idee gehad van waar hy is of waarom hy nie die dag werk toe gekom het nie. Dylan het ook nie weer by sy woonplek opgedaag nie.
“Ek was buite myself van bekommernis,” sê Yolandi de Beer, Dylan se ma. Volgens Maroela Media het organisasies soos die Pink Ladies ingegryp en ook gehelp om Dylan se foto op sosiale media te versprei.
Die gesin het op 19 Oktober die oproep gekry toe Dylan se liggaam in ’n lykshuis gevind is. Hy is vermoedelik op die toneel van die ongeluk dood verklaar.
Volgens Maroela Media sê Yolandi sy glo dit was ‘n ongeluk wat tot Dylan se dood gelei het.



