Die Suid-Afrikaanse Satanistiese kerk het glo ’n man tot selfdood gedryf nadat die kerk hom nie as lid wou aanvaar nie.
Norman Philip Human van Port Elizabeth het homself drie maande gelede gehang nadat Riaan Swiegelaar, medestigter van die satanistiese kerk, glo vir hom gesê het hulle verteenwoordig nie duiwelaanbidding nie.
Tana Potgieter, Human se verloofde, meen die kerk moet verantwoordelik gehou word vir sy dood.
Swiegelaar het in ’n Facebook-video vir Potgieter aangevat en meen sy is verantwoordelik vir Human se dood omdat sy hom nie aanvaar het vir wie en wat hy is nie.
Potgieter het aan ’n plaaslike nuusblad gesê sy het ’n klag teen die kerk gelê.



