1,2 m Molslang by weermagbasis gevang

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Ryno Griesel, ’n bekende slangvanger van die stad, is gister uitgeroep om ’n slang te gaan vang nadat dit deur inwoners gewaar is.

Griesel vertel hy het ’n oproep ontvang oor ’n slang wat tussen die weermagbasis en die teerpad naby die lughawe seil. “Met my aankoms op die toneel het ’n lid van die publiek ’n klompie kinders op ’n afstand gehou wat die slang met klippe wou gooi. Die slang is as ’n pragtige 1,2 m molslang geïdentifiseer.”

Griesel sê die slang was in ’n gesonde toestand. “Die slang is veilig sonder enige probleme gevang. Daar is sommer van die geleentheid gebruik gemaak om bietjie die kinders te leer van die belangrikheid waarom slange nie net doodgemaak moet word nie.”

“Ek wil van die geleentheid gebruik maak om vir Douw Jacobs te bedank wat seker gemaak het die slang word nie beseer nie en dat die slang veilig was totdat ek op die toneel gearriveer het.”

Die slang is weer veilig vrygelaat in sy natuurlike habitat soos voorgeskryf deur Natuurbewaring.

Griesel sê ons is nou in die slangseisoen.

“Ons kry die laaste paar dae baie oproepe vir slange wat ons egter nie kry nie. Die rede hiervoor is dat mense hom nie dophou nie. Onthou ’n slang kan baie vinnig beweeg en is een van die beste wegkruipers in die natuur.”

Doen die volgende wanneer jy ’n slang gewaar:

  • Hou ’n 5 m afstand tussen jou en die slang;
  • Moenie vinnige bewegings maak of skree nie;
  • Bel onmiddellik ’n gekwalifiseerde slangvanger;
  •  Hou die slang dop;
  • Indien die slang beweeg, gooi ’n handdoek op die slang of naby hom. Hy sal onder die handdoek gaan skuil;
  • Moenie self die slang probeer vang of doodmaak nie;
  • Indien moontlik laat iemand buite wag vir die slangvangers;
  • Gee ’n  volledige adres wanneer jy skakel;
  • Indien moontlik en net wanneer dit veilig is neem ’n foto van die slang.

Probeer om een van ons nommers op jou selfoon te stoor onder Slange sodat wanneer jy ’n slang teëkom, jy maklik die nommer van ’n slangvanger kan kry.

Gawie de Wit 082 347 6586

Ryno Griesel 083 444 8003

Dawie Griesel 084 240 6353

https://www.facebook.com/finditnuus/videos/480783449546968