September 16, 2021

Vermeende veediewe vasgetrek na pap wiel

Foto: Canva

VRYSTAAT. – Vermeende veediewe is die naweek danksy polisielede en boere vasgetrek.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê ’n verdagte bakkie is die naweek tussen Virginia en Theunissen opgemerk. Boere het hommeltuie gebruik om te kyk waar die bakkie is nadat ’n boer agterdogtig geraak het.

Met ’n pap wiel

Die bakkie is later op die R730 opgespoor waar dit langs die pad met ’n pap wiel gestaan het. Volgens Makhele was die bakkie vol beeskarkasse gelaai. Hy sê daar is intussen vasgestel beeste is op ’n plaas naby Theunissen gesteel.

Die verdagte, Mohau Mamaseli (25), het vandag in die hof op aanklag van veediefstal en die besit van gevaarlike wapens verskyn. Die polisie is op soek na nog verdagtes.

Mamaseli sal weer op 2 November verskyn en sal in aanhouding bly.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *