WES-KAAP. – ’n Man (33) is in hegtenis geneem nadat hy Saterdag in die informele nedersetting Pine Valley in Wolsley gesien is waar hy iets sleep, wat toe geblyk het die liggaam van ’n vrou (20) te wees.
Gemeenskapslede het die polisie na 23:00 gewaarsku oor verdagte optrede in die Pine Valley-omgewing. By aankoms het die polisie die gru-ontdekking gemaak.
Sondag is die polisie weer na die gebied ontbied waar ’n vlak graf in ’n oop veld deur ’n verbyganger ontdek is. Met die hulp van die forensiese patologiese dienste is ’n vrou wat nog nie geïdentifiseer is nie, se liggaam uit die vlak graf opgegrawe. By verdere ondersoek het die polisie nog ’n graf ontdek, nie ver van die eerste nie. ’n Tweede liggaam waarvan die identiteit, ouderdom en geslag nog nie vasgestel is nie, is ontdek.
Enige persoon met inligting oor die identiteit van die oorledenes of wat tot hul dood gelei het, word versoek om sers. Pieters van die Wolsley-polisie te kontak by 079 894 0195.



