KIMBERLEY – Daar word steeds vure geblus op die Samariapad ná die verwoestende brande gistermiddag in die Dronfield-omgewing begin woed het.
Suid-Afrikaners van selfs so ver as Durban staan saam om water, koeldrank, kospakkies, watertenks en hulp aan die boere wat dit nodig het, te bied.
“My telefoon hou aan lui. Boere kom van oral en besighede help met water. Kimberley se gemeenskap kán saam staan! Dankie, dankie, dankie,” sê Marie Beyleveld, DA-raadslid.
Op die oomblik word kospakkies, water en koeldrank by Jacobsonlaan 8 in Hillcrest afgelaai. “Ons het vreeslik baie skenkings vir water gekry, ons het nou net houers nodig waarin ons die koeldrank kan aanmaak. Enige skenkings is welkom.”
Daar is reeds vier bakkievragte na Chanbe Lodge gery, waarvandaan die skenkings opgedeel en versprei word. Daar sal om 12:00 nog ‘n vrag vertrek.



