September 16, 2021

Senekal 2: Van agter ‘n joernalis se lens

Toebroodjies, laaiers, power banks, data en laaikabels. O, en water. En my hoed.

Onseker oor wat die dag op Senekal inhou, klim ek in my kar en pak die 336 km aan.

Ek steek die lorrie voor my verby en ek wonder hoeveel ander ook onseker is oor vandag. Ek dink aan hoeveel vandag by die huis bly en bid. My hart klop vinniger as ek die WhatsApp-boodskappe van die vorige aand onthou. “Bly weg uit Senekal. Dis ‘n lokval. Dit is nie veilig nie.” Die hele drie en ‘n half ure wat dit my karretjie neem om die eerste padblokkade te sien, oorweeg ek dit om eerder om te draai. My nuuskierigheid wen egter…

My karretjie is een van die gelukkiges wat nie deur die manne in blou deursoek word nie. Ek ry verby tien ander voertuie en sien hoe kattebakke oopgemaak word en hoe polisiemanne daardeur kyk.

Die rooi, uitdagende kyke is die heel eerste ding wat ek in die dorpie raaksien. Ek probeer verbouereerd glimlag soos ek my kar sluit toe ek by die vulstasie stop. Die harde gesigte word egter nie vriendeliker nie…

Ek ry ‘n paar keer in sirkels voor ek besluit waar ek wil stop. Ek sit my skootrekenaar en my handsak in die kattebak. Net, jy weet, vir ingeval. Ek begin die live en beweeg stadig nader aan die rooi massa. Ek begin kriewelrig raak toe ek nie my eie mense sien nie. Die kykers op Facebook vra dieselfde ding. Waar ís hulle?

Na ‘n rukkie begin ek te ongemaklik voel tussen die rooi vlae en gesing. Ek besluit om maar eerder te ry en na my eie mense te gaan soek.

Na ‘n rukkie se rondry, sien ek die wit kruise. Ek gaan parkeer my kar in ‘n koeltekolletjie en hang my kamera om my nek voor ek uitklim. My neongeel baadjie maak dit duidelik dat ek die media verteenwoordig en nie deel is van die groep boere nie.

Die skielike rustigheid na die vreeslike geraas, is amper ‘n skok vir my lyf.

Ek onthou verlede week se mediaberigte wat die boeregemeenskap so kwaad gemaak het. Ek onthou hoe hard ek probeer het om die waarheid uit te vind voordat ek my berigte gepubliseer het. En die mense wat ten spyte daarvan steeds gevoel het dat ons net een kant van die storie noem. Dit voel amper asof ek die oë op my rug kan voel brand.

“Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra. Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika…” Die stemme raak stil. My hele lyf is vol hoendervleis en my hart wil skree dat ek ook so verskriklik teen plaasaanvalle en -moorde is. Maar ek onthou die woorde… “Jy is nie daar om kant te kies nie. Jy is daar om verslag te lewer.”

Een van die boere klim agterop die bakkie. “Wil julle môre op die TV sien dat die EFF hier was? Wil julle môre hê almal moet vra waar was ons? Dis nou tyd vir ons om ook te gaan gesig wys.”

Ek hardloop vooruit en probeer van voor af foto’s neem soos wat die boere in die dorp se rigting beweeg. ‘n Figuur met ‘n gaasdoek oor sy kop skree uittartend. “Ja, jy van die media, vandag kan jy nie my gesig sien nie. Ja, toe, wie is ek? Jy kan maar foto’s neem, jy sal nie weet wie ek is nie.”

Die selfbeheersing wat ek in die groep boere wat na die dorp op pad is, se oë sien, is iets ongeloofliks. Die hartseer, die pyn, die woede, die teleurstelling, die verskriklike seer… Dis alles so duidelik. “Bly agter my, manne,” roep een van die mans wat voor loop. “Ek wéét julle is kwaad. Ons almal is. Maar dis nou die tyd om in beheer van ons emosies te bly.”

Die polisievoertuie is soos ‘n muur tussen die kaki en die rooi. Ten spyte van die somerson, die stof en die sweet, raak ek yskoud toe ek sien hoe naby die twee groepe aan mekaar beweeg. My hart klop tot binne-in my keel. Ek wonder of almal die spanning in die lug kan voel.

Die polisieman vra met wie hy moet praat. Wie die boere se ‘leier’ is. ‘n Paar boere kyk na mekaar voor een vorentoe tree en met die polisieman in gesprek tree.

Ek probeer van alles foto’s neem. Die plakkate met die rooi hande op. Die wit kruise. Die T-hemde.

Voor ek my weer kom kry, is van die boere besig om na hulle bymekaarkomplek terug te keer. “As hulle wil baklei, moet hulle maar daar na ons toe kom,” hoor ek ‘n stem. “Dis sommer kak dié, man. Hoekom word ons weggejaag?” hoor ek nog een. “Daai ander gaan dan so verskriklik tekere en hulle word nie gestop nie!”

Ek kan die teleurstelling in die lug voel. ‘n Groterige groep boere besluit egter dat hulle nie ook na die bymekaarkomplek gaan terugkeer nie. Hulle bly staan tot die Brendin Horner-saak verby is.

Toe ek later die middag, ná ek weer by die dansende rooi ‘n draai gaan maak het, weer op dié plek waar daar amper-amper ‘n bloedbad was, verbyry, is dit asof niemand daar was nie. Behalwe vir die stukkende asdrom en KFC-papiere wat die pad vol lê… Ek hoor nog die gesing en toe ek naby die landdroshof verbyry, sien ek dat daar steeds gedans en gesing word.

Ek lê die aand in my bed en gaan deur die boodskappe en posts op Facebook, almal se verskillende opinies van wat gebeur het. “Die boere het verloor, die boere het gewen…” en al waaraan ek kan dink, is die onveilige en verbouereerde gevoel wat ek tussen die rooi gehad het. Dan kan ek net my oë in dankbaarheid toemaak en dankie sê dat niemand seergekry het nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *