Dr. Zwelini Mkhize, die minister van gesondheid, het Sondag in ‘n verklaring bekendgemaak hy en sy vrou, dr. May Mkhize, het positief vir Covid-19 getoets.
“Ons het besluit om gister te gaan toets en die uitslae het positief teruggekom,” sê hy.
Luidens die verklaring het dr. Mkhize en sy vrou Saterdag ligte simptome van die virus begin ervaar.
Mkhize het gesê dokters het aanbeveel sy vrou moet in die hospitaal opgeneem word vir waarneming. Mkhize is in selfisolasie by sy huis.
Hulle het ook diegene met wie hulle in aanraking was, ingelig dat hulle die virus onder lede het en aangeraai om hul te laat toets.
Mkhize het ook ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om die maatreëls en regulasies te gehoorsaam.



