KIMBERLEY – Een van die land se oudste rugbyklubs, Universals, in Kimberley, vier volgende jaar hul 135ste bestaansjaar.
Dié klub is in 1886 gestig en is die oudste in die Noord-Kaap en is een van die oudste rugbyklubs in die land.
‘n Reeks aktiwiteite word vir die feesvieringe beplan, wat in Februarie met ‘n reeks afrigtingseminare afskop.
Romeo Syfers, voorsitter van Universals, sê hierdie is deel van die klub se bydrae tot gemeenskapopheffing.
Die seminare, wat van 2 tot 4 Februarie sal plaasvind, is op drie vlakke: laerskool-, hoërskool- en klubvlak.
Die aanbieders is die voormalige Springbok-afrigter, Peter de Villiers, en dr. Wilbur Kraak.
De Villiers is geen vreemdeling in Kimberley nie. Hy was ‘n student aan die destydse Perseverance-opleidingskollege.
Hy het dié kollege ook as skrumskakel in die plaaslike liga en Griekwaland-Wes verteenwoordig.
Kraak is oorspronklik van Mamre en is professor en lektor by die Department Sportwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch.
Hy het ‘n vlak drie afrigtingkwalifikasie van Wêreldrugby en ‘n doktorsgraad in sportwetenskap. Kraak is ook ‘n bekende spreker by plaaslike en internasionale rugbygeleenthede.
Hy fokus onder andere op kondisionering, taktiek, tegniek, prestasie en spelplanne.
Syfers het ‘n beroep gedoen op klubs, skole en afrigters in die streek om die geleentheid aan te gryp om hul kennis en praktiese vaardighede in die spel te verbreed.
Vir meer inligting, WhatsApp Leona Voigt op 076 580 3201 of stuur ‘n e-pos na [email protected].



