“Almal is terug na hul ouerhuise, dit het so vinnig gebeur”

Deel hierdie storie / Share this story

“Dit het so vinnig gebeur, ons kon mekaar nie eers behoorlik groet nie.” Dit is woorde van Tienie Burger (26), nadat hy op 19 September 2020 uitgevind het hy en 35 ander spelers sal nie meer vir die Southern Kings rugby kan speel nie.

Rugby laat hom lewendig voel

Burger, wat oorspronklik van Rosendal in die Oos-Vrystaat is, sê hy het op laerskool langs die veld saam met sy maatjies rugby begin speel terwyl sy ouer broer besig was om te speel. “Daar is min ervarings wat ek al gevoel het wat my so lewendig laat voel soos as wanneer ek rugby speel of met die bal hardloop. Dit is vir my ongelooflik lekker.”

’n Droom by die Southern Kings

Hy het in 2017 vir die Southern Kings begin speel. “Hierdie seisoen wat ons moes klaarmaak, sou my derde seisoen by die Kings gewees het.

Spelers keer terug huis toe

“Daar is niks meer oor nie, almal is weg. Meeste spelers is terug na hul ouerhuise om nie huur te betaal nie. Dit alles het so vinnig gebeur, ons het mekaar nie eens behoorlik gegroet nie.”

“Die omstandighede na die tyd is maar elke man vir homself. Elke ou kan maar nou maak soos hy wil. Ons word nie meer betaal nie, so mens moet maar vinnig plan probeer maak om iets anders te kry om weer ’n salaris te verdien.”

Hoe lyk die toekoms?

“My toekomsplanne was om nog een seisoen by die Kings te speel. Ek het nog een jaar oor op my kontrak gehad en dan hopelik iets anders te kry of om dan weer by die Kings te teken. Ek het my tyd in PE baie geniet. My toekomsplanne is baie onseker. My agent is besig om vir my ’n ander kontrak te soek. Intussen oefen ek maar en maak seker dat ek reg is as die geleentheid kom sodat ek dit met albei hande kan aangryp. As ek nie ’n ander geleentheid kry nie, sal ek my CV moet optrek en dan vir ’n normale werk begin aansoek doen.”

Care 4 Kings – ondersteun die spelers van môre

Care 4 Kings is gestig en Braam van Straaten, voormalige afrigter van die Kings-rugbyspan, doen ’n beroep op alle professionele sportlui om items te skenk vir ’n aanlynveiling wat op 16 en 17 Oktober sal plaasvind. “Dit is wonderlik om te sien dat ouens soos AJ Venter video’s doen oor wat hy kan gee. Jy kan dit nou aanlyn koop. Dis ’n geleentheid wat nie voorheen beskikbaar was nie en die bonus is, so help jy die toekoms van môre. Jy help ouens wat groot drome het. Groot harte en passie vir rugby.”

Van Straaten, voormalige Springbok-rugbyspeler, skenk ook sy eie Springbok-baadjie, wat Vrydag en Saterdag op die veiling beskikbaar gaan wees.