“Selfs wanneer hy na partytjies toe was, het hy geweier om te eet of begin huil. Hy het nooit lekkers of gaskoeldrank gedrink of geëet nie. Net worsies en water.”
Die 15-jarige Ben Simpson is na jare se verslawing aan varkworsies uiteindelik verlos en kan weer ander kossoorte eet.
Wendy Hughes (55), sy ma, was moedeloos en bekommerd oor haar kind se gesondheid na hy vir byna 13 jaar aan varkworsies verslaaf was en niks anders wou eet nie.
Simpson was glo sedert hy baie klein was kieskeurig oor wat hy eet en het ongeveer vyf varkworsies vir oggend-, middag- en aandete geëet.
Selektiewe eetsteurnis is by Simpson gediagnoseer en Hughes het besluit om hom vir behandeling te neem. Hulle moes egter weens Covid-19-regulasies die afspraak aanlyn bywoon. Na twee ure se behandeling is Simpson wonderbaarlik van die eetsteurnis genees.
“Ben moes leer glo hy kan met ‘n oop gemoed nuwe kossoorte probeer en dat nuwe smake opwindend is. Dit voel asof ek ‘n nuwe kind het,” sê Hughes.



