Kimberliet ontsteld oor dreinprobleme

Deel hierdie storie / Share this story

Zelda Jacobs, ‘n inwoner van Broadway Place in Beaconsfield, is raadop oor die situasie met haar verstopte drein waarin sy haarself bevind.

“Die situasie is al telkemale aangemeld. Dit word reggemaak, maar ‘n dag of wat later dan sit ons net weer met dieselfde probleem. Ons bure se riool stoot al op tot in my toilet,” vertel sy moedeloos.

Jacobs, wat ‘n dogtertjie van 12 jaar oud het, sê sy en haar dogter gebruik maar die bure se badkamer wanneer dit nodig is. “Dis verskriklik om nie eers in jou eie huis te wil wees nie. My hele erf buite én my huis binne is vol rioolwater. Dis aaklig. Ek vermy dit al om skottelgoed te was, juis oor die drein reeds so vol is en ek nie nóg water daarin wil laat loop nie.”

Ockie Fourie, DA-raadslid, sê die probleem lê nie by Jacobs se drein nie. “Ons vermoed dat dit ‘n groot boom in Kearnsstraat is wat die probleme veroorsaak. Dié boom se wortels moes al so met die tyd tussen die pype in die stelsel ingegroei het.”

Daar is volgens Fourie ongelukkig geen vinnige oplossing vir dié probleem nie. “Ek sal die probleem met die parkeraad bespreek en dan vat ons dit van daar af.”