Twee verdagtes is vandag deur Senekal-speurders in verband met die moord op die 21-jarige voorman, Brandon Horner, in hegtenis geneem.
Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het die polisie bloedbevlekte klere en skoene by die verdagtes gekonfiskeer en dit vir forensiese toetse gestuur. “Die mans is vermoedelik veediewe en dis moontlik dat Horner hulle raakgesien het toe hulle daardie dag probeer steel het,” sê hy.
Horner is om ongeveer 06:30 op Vrydag 2 Oktober met ‘n tou aan ‘n paal op die plaas vasgebind gekry. Die polisie het ‘n oproep van ander boere in die omgewing ontvang wat die aanval by die DeRots-plaas rapporteer het. Horner is met beserings aan sy kop en gesig op die toneel dood verklaar.
‘n Mes is op die toneel gekonfiskeer en Horner se Toyota Hilux-bakkie is later, ook met bloedvlekke op, naby Duikfontein-plaas op Paul Roux opgespoor.
Die twee verdagtes van onderskeidelik 32 en 43 jaar oud sal Dinsdag 6 Oktober in die Senekal-landdroshof verskyn op aanklag van moord.



