KIMBERLEY – Dawie Griesel van Kimberley Snake Rescue het gister wéér ‘n Kaapse kobra by dieselfde gat naby Cassandra gaan verwyder. Dié slang was ongeveer 1,5 m lank.
“Gelukkig was die slang buite die gat en kon ek hom maklik en vinnig verwyder,” sê Griesel.
“Omdat die stad uitbrei en mense nou bou waar die slange se habitat is, is dit algemeen vir die slange om in die dorp voor te kom,” sê Griesel.
Die beste manier om te verhoed dat slange in jou erf rondseil, is om van enige moontlike wegkruipplek ontslae te raak. Omdat slange wegkruipplek soek, is gate en bourommel die ideale plek vir hulle.
Van die giftige slange wat in Kimberley voorkom, is Kaapse kobras, pofadders en boomslange. Van die minder gevaarlike slange wat in dié dorp voorkom, is die huisslang en die molslang.
As jy in enige stadium ’n onwelkome gas soos dié naby jou huis gewaar, skakel vir Dawie Griesel by 084 240 6353.



