KIMBERLEY. – Patrick Mabilo, die burgemeester van Sol Plaatje-munisipaliteit, het dit duidelik gemaak in ’n vergadering met inwoners en die maatskappy Frogfoot, dat hy die erfenis, estetika en belange van die inwoners van Kimberley, eerste en bo enige beleggers van buite, stel.
“As ek moet kies tussen erfenis en beleggings, kies ek erfenis. Dit moet beskerm word. Daar kan geen kompromie wees nie. Dit word nasionaal beskerm.”
Teerpale ontsier
Dié uitspraak kom nadat inwoners van Kimberley ongelukkig is oor die installering van teerpale naby aan huise wat die omgewing ontsier en ’n veiligheidsrisiko vir sommige inwoners inhou omdat dié pale te naby aan die huise geplant word.
Die bome in Kimberley is na raming meer as R2 biljoen werd en as dié bome beskadig of afgesaag word, bly daar niks oor van Kimberley nie, sê die inwoners. Baie van die bome sal gesnoei moet word of selfs afgekap word om plek te maak vir die kabels wat van die een paal na die ander hang.
Inwoners is ongelukkig oor die manier hoe die pale ingesit word en vrees dat Kimberley gebombardeer word met swak infrastruktuur wat afbreuk doen aan die stad, sy bome en erfenis.
Verwyder pale in erfenisgebiede
Frogfoot het reeds begin om pale in die erfenisareas van Kimberley – wat alle huise ouer as 60 jaar insluit – uit te haal. Dié areas is onderhewig aan die erfenisraad se beslissing, wat dié areas beskerm en geen onregmatige ontwikkeling of infrastruktuur toelaat nie.
Ander alternatiewe moet ondersoek word
Mabilo, Boy Dluwayo, die munisipale bestuurder, tesame met ingenieurs van Sol Plaatje en lede van die gemeenskap het in die raadsaal van die munisipaliteit bymekaar gekom oor vrae wat die gemeenskap oor die ooreenkoms met die maatskappy Frogfoot het.
Mabilo sê ’n oplossing moet gevind word en het Frogfoot se verteenwoordigers gevra om met ’n nuwe voorstel, wat ordentlike navorsing oor alternatiewe maniere van optiese kabels lê, vorendag te kom.
Estetiese waarde van Kimberley belangrik
Johan Harmse, ’n inwoner van Kimberley, sê as daar teerpale in Kimberley deur een maatskappy toegelaat word, maak die munisipaliteit die deur oop vir ander maatskappye om óók pale te installeer. “Voor jy weet het jy vier pale met drade voor jou huis. My vraag is wie het die toestemming gegee om die pale op te sit en watter prosesse is gevolg? Ons praat van estetiese waarde wat belangrik is. Jy kan nie verwag dat een diensverskaffer wel moet slote grawe en dat ’n ander diensverskaffer moet pale opsit nie. Dit is buite die norm om pale oral te plant en dit doen afbreuk aan Kimberley. Niemand is teen ontwikkeling nie, maar doen dit reg.”
Nuwe voorlegging sal aan raad gedoen word
Mohammed Abrahams, assistent ingeneurstegnikus vir Sol Plaatje, sê Frogfoot het oor ses maande sy huiswerk gedoen voor hy aansoek gedoen het om optiese kabels in Kimberley te installeer. Alhoewel dié huiswerk gedoen is, en slegs vir tradisionele ‘trenching’ aansoek gedoen is, het dié maatskappy glo besef dit is te moeilik om in Kimberley slote te grawe en daarom begin pale plant. Abrahams sê hy ontvang honderde aansoeke en nie almal stipuleer hoe hulle optiese kabels gaan aanbring nie. “Ek moet net seker maak hulle voldoen aan die vereistes van die gereg.” Hy het toegegee hy het nie die erfenisareas van Kimberley in ag geneem nie, maar het deur mate van ’n verlenging aan Frogfoot toestemming gegee om pale in Kimberley te plant.
Alhoewel hy aanvanklik heeltemal teen die idee van “micro-trenching” in die pad was, sal hy nou daarna gaan kyk en ’n voorlegging aan die raad doen en nou saam met die erfenisraad werk. Hy het saamgestem die pale is nie ideaal nie en “lelik”, maar daar sal ’n middeweg vir Kimberley gevind moet word. Baie areas in Kimberley laat nie toe dat daar slote gegrawe kan word nie.
Openbare deelname
Gerhard de Bruin, nog ’n inwoner, het die munisipaliteit daarop gewys dat die inwoners graag die tegnologie in die stad wil hê. “Ons soek nuwe tegnologie wat vir almal aanvaarbaar is in die voorsiening daarvan. Ons soek billike diensverskaffing. Alle ander diensverskaffers het die estetika en die inwoners in ag geneem.”
Mabilo het klem gelê daarop dat hy dit op homself neem om dié kwessie binne ’n week af te handel. “Ons het ’n groot verantwoordelikheid om Kimberley te laat skitter. Ons doen baie moeite om die stad skoon te maak en skoon te hou. Ons moet nou Salomo van die Bybel se kennis gebruik om dié kwessies aan te spreek. Ons moet Kimberley ontwikkel, maar ons móét as ’n munisipaliteit na ons inwoners luister.”
Die belanghebbendes sal weer volgende week vergader om terugvoer te ontvang.



