Riool maak Roodepan-inwoners siek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Op die hoek van Hamerkop- en Ravenstraat in Roodepan loop die rioolwater al ’n geruime tyd. Die probleem is menigmale al aan die munisipaliteit, raadslede en selfs die burgemeester aangemeld, maar die probleem bly onopgelos.

 ’n Inwoner van die gebied sê haar oproepe word nie meer beantwoord nie. “Die mense begin nou al vullis ook daar te gooi, want dit lyk reeds soos ’n stortingsarea.”

’n Ander inwoner sê die rioolwater loop dag en nag. “My bejaarde moeder is reeds sieklik en die stank maak dit nog erger. Mens kan nie eers jou vensters oopmaak nie.”

Thoko Riet, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die saak sal ondersoek word.