Teerpale in Kimberley se erfenisgebied moet uit, sê Erfenisraad

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die Erfenisraad van die Noord-Kaap het die maatskappy, Frogfoot, tydens ‘n vergadering hier beveel om alle teerpale met onmiddelike effek in die erfenisgebiede van Kimberley uit te haal. 

Timonthy Ratha, van die Erfenisraad, sê daar sal streng opgetree word teen individue en maatskappy wat die wet oortree.

“Dit sal die eerste keer wees dat iemand in hegtenis geneem word omdat hy die erfeniswet oortree. Die erfenis van Kimberley is die enigste goud wat dié stad nog oorhet en ons moet dit beskerm.”


Ratha sê die pale is onregmatig en sonder toestemming in die erfenisgebied opgerig, aangesien die erfenisraad nooit ‘n aansoek om permitte daarvoor, ontvang het nie.


Die pale word regoor Kimberley geplant, vanwaar daar optiese kabels aan gehang word.

Verteenwoordigers van Frogfoot, die erfenisraad, raadslede en lede van die gemeenskap het die vergadering bygewoon.

Ratha het beklemtoon énige huis wat ouer as 60 jaar oud is, word onder die wet beskerm as ‘n erfenisgebied in Kimberley. Om in dié gebiede te werk, moet toestemming voor verkry word. Hier is ‘n lys van erfenisgebiede in Kimberley. Dit sluit nié geboue ouer as 60 jaar oud in nie.

Frogfoot het aangedui die maatskappy gaan nou ‘n omgewingsimpakstudie laat doen, alhoewel die maatskappy sedert Julie van die probleme bewus is.

 
Jacques du Toit, hoof uitvoerende beampte van Vox Telecoms, waarvan Frogfoot deel vorm, sê die maatskappy is in ‘n lokval gelei.


“Daar was geen voorafbepaalde agenda sodat ons kon voorberei nie. As almal vooraf laat weet het wat ons gaan bespreek en wie die rolspelers was, sou ons seker gemaak het die regte mense is daar. Daar was rolspelers in die vergadering wat nie deel is van ‘heritage’ nie en geen reg het om ons te vertel wat reg en verkeerd is nie.”


Du Toit sê hulle wag steeds vir ‘n notule van die vergadering en het geen skriftelike instruksie ontvang om die pale uit te haal nie. Daarom sal die pale nie nou uitgehaal word nie, sê hy.

Kontak Frogfoot by [email protected].