Vermeende onwettige delwers bedreiging vir flaminke

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die klein flaminke van Kamfersdam word weereens bedreig, dié keer deur vermeende onwettige mynakitwiteite by dié dam.

Foto’s en klagtes van vermeende onwettige delwers (Zama-Zama’s) by Kamfersdam op die N12 doen die rondte. By nadere ondersoek, het FiND iT bevind daar is tans nog net ongeveer agt vermeende onwettige delwers hier raakgesien.

Een van die inwoners van Kimberley, wat nie haar naam genoem wil hê nie uit vrees vir viktimisasie deur die delwers, sê die bedreiging is nou nog erger en dat dié spesie flaminke heeltemal uitgewis kan word. “Dit sal my nie verbaas as die flaminke geslag word vir kos nie.”

Die moontlikheid bestaan dat die voëls verwilder kan word en kuikens en eiers vertrap of opgetel kan word. Die risiko kan ook groter word indien meer mense na die dam stroom in die hoop om daar te delf.

Mike Bolhuis, spesialisondersoeker na ernstige gewelds- en ekonomiese misdade, sê hy is bewus van die situasie, maar het nog nie self ondersoek oor die saak ingestel nie. Bolhuis was ’n sleutelfiguur in die reddingspoging om meer as 2 000 flaminkkuikens en -eiers in 2019 te red. Hyself het ook flaminke op sy eie plot.

Bolhuis sê hy het gehoor van die aannames dat daar gedelf word, maar weet nie of dit feitelik korrek is nie. “Ons sal dit aanspreek, maar ons sal klagtes en inligting moet ontvang van mense wat wil hê ons moet kennis neem of toetree. Om sommer net self toe te tree, kan gevaarlik en onverantwoordelik wees, want ons weet nie presies wat die situasie daar is nie. Ons ken wel die mynbedryf en ons weet hoe aggressief en gevaarlik hulle kan wees. Ons moet seker maak dat ons absoluut al die inligting het voordat mens optree.”

Bolhuis gaan voort om te sê dit is ’n misdaad om enige plek, sonder ’n permit of toegedeelde area, te delf.

Tania Anderson, bewaringsbioloog van Save the flamingos, sê dit is ’n ernstige situasie en bedreig die broeisukses van flaminke en ander beskermde voëls by Kamfersdam.

“Te veel versteuring naby die water en net voor broeiseisoen sal waarskynlik ook aanteel voorkom, benewens verhoogde stropery op hierdie voëls.”

Klein flaminke broei net op vyf plekke wêreldwyd – vier is in Afrika en een in Indië. Hulle broei onreëlmatig op die drie ander broeiplekke in Afrika en die meeste by Kamfersdam. Die ander broeiplekke  word deur verskillende faktore bedreig, waaronder klimaatsverandering. Hulle moet gereeld aanhou broei by Kamfersdam om die afname in hul bevolking te keer.

“Ek dink die polisie moet dadelik optree om die onwettige mynwerkers te verwyder en daar moet gereeld sekuriteitspatrollies plaasvind om oortreders van die grond af te hou totdat ’n heining gebou kan word om mense en honde uit die bewaringsgebied van Kamfersdam te hou,” sê Anderson.

Jy kan Mike Bolhuis hier kontak indien jy ’n klagte wil indien:
S.A. Safety & Security
Mike Bolhuis
Specialist Investigators Into Serious Violent And Serious Economic Crimes.
PSIRA Reg. 1590364/421949
Cell: 082 447 6116
Fax: 086 585 4924
[email protected]
www.mikebolhuis.co.za