‘Verwoesting deur veselmaatskappy Frogfoot’ – DA soek antwoorde

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die Demokratiese Alliansie (DA) vra vir ‘n dringende spesiale raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit in verband met die “verwoesting” wat in Kimberley deur die veselmaatskappy Frogfoot gesaai word.

Dit kom na toenemende frustrasies deur inwoners van die stad oor die daaglikse opgrawing van paaie en sypaadjies vir die oprigting van pale wat sleg geplaas is. Dít alles te midde van voortdurende onsekerheid oor waar die werklike magtiging vir hierdie ontwikkeling vandaan kom, sê Christopher Phiri, DA-koukusleier.

Pleit onkunde

“Sol Plaatje pleit steeds onkunde as verweer teen die verwoesting wat die projek saai, ondanks die feit dat plaaslike inwoners al vir maande kla oor dié veselonderneming, en ten spyte daarvan dat die DA al verskeie vrae gerig het oor die werk wat die veselonderneming doen. Die DA het ook die burgemeester, die waarnemende munisipale bestuurder en ‘n waarnemende ingenieur hieroor genader.”

Kimberley verval

Phiri sê intussen verval Kimberley nog verder. “Teer word opgegrawe, plaveistene word verwyder en onooglike teerpale word daagliks voor meer huise opgerig. Kimberley is ‘n nog groter gemors as voorheen met baie inwoners wat kla dat hulle nou self hul eie gras moet herplant en hul nuut gebreekte sypaadjies moet opknap.”

Pale op sypaadjies van erfenisterreine

“In sommige gevalle is die pale op die sypaadjies van eiendomme wat as erfenisterreine verklaar is, geplaas sonder toestemming van die nodige historiese gesag. In sommige gevalle het die pale skeef getrek as gevolg van die drade, wat dit onooglik maak en die waarde van mense se eiendom beïnvloed. In sommige gevalle is dit selfs ‘n veiligheidsrisiko, aangesien dit so naby aan mure geplaas is dat dit maklik is vir misdadigers om in die erwe van mense oor te spring.”

Munisipaliteit “sit en toekyk”

Die DA eis dat die Sol Plaatje-munisipaliteit, en die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Boy Dhluwayo, duidelikhied moet gee oor waar die magtiging vir die Frogfoot-projek lê.

“Dit kan nie wees dat ‘n munisipaliteit, wat beweer dat dit niks van hierdie onderneming weet nie, net daar sit en toekyk hoe die onderneming die stad in ‘n massiewe konstruksieterrein verander, waar kabels en waterpype gereeld deurgeboor word. Dit is iets wat Kimberley, wat al ontelbare waterprobleme en gevolglike waterafsluitings gehad het, min kan bekostig.”

Waar is ooreenkomste en tenders?

“Ons moet weet watter ooreenkomste en selfs tenders aangegaan is – hierdie saak kan eenvoudig nie geheim gehou word nie. Terselfdertyd moet iemand verantwoordelikheid neem vir die ontwikkeling van vesel in Kimberley, sodat duidelike riglyne toegepas kan word en sodat die maatskappy aanspreeklik gehou kan word as dit nie daaraan voldoen nie. Daar kan ook van die onderneming verwag word om ‘n subkontrakteur in diens te neem om lapwerk en herstelwerk te doen soos wat hulle deur die dorp beweeg, of selfs om retensiefooie te betaal om te verseker dat fondse beskikbaar is vir die skade wat die maatskappy opdoen. Dit is noodsaaklik, aangesien die sieklike Sol Plaatje-munisipaliteit nooit die vermoë of die hulpbronne sal hê om die nuutgegrawe kraters saam met die honderde slaggate in die stad toe te gooi nie,” sê Phiri.

“As die DA nie glashelder antwoorde van Sol Plaatje kry tydens ‘n spesiale beraadsvergadering wat binnekort geskeduleer word nie, sal ons geen ander keuse hê as om te vra dat hierdie projek gesluit word of self om selfs om regsopsies te bekyk nie. Dit is nie ideaal nie, want vesel op sigself is ‘n goeie ding en dit is ongetwyfeld nodig is om die digitale kloof tussen die Noord-Kaap en ander meer ontwikkelde provinsies te oorbrug. Terselfdertyd, kan ons egter nie ‘n situasie duld wat die stad van die groot gat verander word na die stad van baie gate, onder ‘n sluier van misterie nie.”

FiND iT het navraag by die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen.

  • Persverklaring