Werkers soek voor 12:00 antwoorde oor betaling

Deel hierdie storie / Share this story

Werkers van Sesona, subkontrakteurs, wat vir die afgelope drie maande vir Vodacom in Kimberley WiFi installeer, is baie ongelukkig oor hulle vir die derde maand nie hulle salarisse ontvang het nie.

Die werkers sê hulle kan nie vir langer geduldig wees nie. “Ons gee hulle tot 12:00 vandag om vir ons antwoorde te gee, anders gaan ons die werk wat ons tot dusver gedoen het, tot niet maak.”

Tharison Buthelezi, een van die werknemers, sê die inwoners hoef nie oor hulle eiendom bekommerd te wees nie. “Ons is nie aggressief nie, ons sal niemand se eiendom beskadig nie.”

Sharon Steyn, raadslid, sê sy kan verstaan waarom die werkers ongelukkig is. “Hulle moes vir so lank sonder enige antwoorde werk,” sê sy.

Een van die ander werknemers sê hulle het selfs op 50% van hulle salarisse ooreengekom, maar hulle het dit ook nog nie ontvang nie.

“Ek kom werk op ‘n leë maag, want ek ontvang nie my salaris nie. Ek moet huur hier in Kimberley en by my huis in Johannesburg betaal. Hulle moet nou ons geld vir ons gee. Ons is nie die enigstes wat so met hulle sukkel nie. Ons wil ‘n einde hieraan maak sodat ander mense in die toekoms nie ook hiermee sukkel nie,” sê Buthelezi.

FiND iT het by Sesona navraag ingesit en wag nog vir terugvoer.