Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected].
Anonieme lesersvraag:
Ek was in ’n verhouding vir vier en ’n half jaar met ’n man wat twee jaar jonger as ek is. Ons storie is as volg:
Ons het mekaar as tieners geken en toe ons weer mekaar ontmoet, was ek ’n weduwee vir drie en ’n half jaar. Sy vrou was toe al ses maande oorlede. Ons het aangetrokke tot mekaar gevoel en dit was ’n langafstandverhouding. Hy het toe as gevolg van werk Musina toe getrek en ons het mekaar minder gesien, maar hy het nog elke dag gebel. Ek was die een wat die verhouding in April verbreek het, want ek het uitgevind hy was besig op ’n dating site. Hy het ook meer op sy foon gekonsentreer. My probleem is, hy SMS en bel my nog steeds asof ons nog bymekaar is. Ek het nie die hart om vir hom te vra om op te hou nie, want ek voel jammer vir hom, maar ek besef ek moet hom laat verstaan dat ons nou net gewone vriende kan wees. Hoe vra ek hom om op te hou SMS en bel asof ons nog in ’n verhouding is? Hy het homself afgesny van sy familie en hulle weet nog nie ons is nie meer saam nie. Hy sê hy sal hulle eendag vertel. Miskien kan jy my help.
Antwoord:
Eerstens sal jy moet besluit of jy nog in die verhouding wil wees of nie. Indien jy nie wil wees nie, moet jy dit duidelik maak. As jy dit nie vir hom oor die foon kan sê nie, stuur dan ’n SMS. As jy voel dit dring nie tot hom deur nie, sal ’n opsie wees om sy familie oor die situasie in te lig. Jy sal duidelike perke moet stel.



