Clicks: optrede is “boewery”

Deel hierdie storie / Share this story

Die optrede teen Clicks-winkels landswyd is “boewery” en word voor Julius Malema se deur gelê. Só sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF+.

“Die optrede vandag van EFF-lede teenoor die winkelgroep Clicks met gepaardgaande plundery, brandstigting en vandalisme, is niks anders nie as boewery. Die leier van die EFF, Julius Malema, moet persoonlik hiervoor aanspreeklik gehou word aangesien hy sy ondersteuners op sosiale media aangehits het om die groep se winkels ‘aan te val’.”

Groenewald verwys na Malema se twiets, wat ook in die media verskyn het, waar hy onder meer sê: “See you tomorrow. Fellow fighters and ground forces; ATTACK!!!”.

Groenewald sê dit is duidelik dat Malema openbare geweld aangehits het en hy is daarom medepligtig aan die optrede van sy ondersteuners en die skade wat aangerig is. Die gooi van petrolbomme na winkels soos in Witbank, Mpumalanga, grens aan terrorisme en daar moet op die strengste wyse moontlik hierteen opgetree word.

“Ons doen ʼn beroep op die winkelgroep Clicks om strafregtelike klagte aanhangig te maak teen die oortreders en teen Julius Malema as medepligtige. Die EFF as organisasie en Malema moet aanspreeklik gehou word vir alle skade wat veroorsaak is en daar moet ook siviele eise teen hulle ingestel word.

“Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat meningsverskille op hierdie wyse opgelos word nie. Indien die EFF die saak op ʼn waardige wyse met Clicks opgeneem het en hul misnoeë oor die betrokke advertensie uitgespreek het, sou hulle ʼn voorbeeld vir almal gestel het oor hoe om op te tree wanneer geskille ontstaan.”

Hy sê vandag se optrede grens egter aan anargie en indien almal in Suid-Afrika hul geskille op hierdie wyse probeer besleg sonder enige gevolge, sal dit totale chaos en anargie veroorsaak wat net tot geweld en polarisasie kan lei.

“Een van die probleme in Suid-Afrika is dat misdadigers wat strafregtelik vervolg behoort te word, te maklik wegkom met hul misdadigheid en straffeloos voortgaan met hul optrede.

“Daar moet ʼn voorbeeld van die EFF se optrede van vandag gemaak word. Indien dit  nie gebeur nie, sal wetsgehoorsame mense hul vertroue verder in die land se strafregstelsel verloor om hulle te beskerm.”

Die VF Plus doen ʼn beroep op die polisie om daadwerklik op te tree en mense in hegtenis neem wat betrokke is by openbare geweld en die beskadiging van eiendom.