Die VF Plus het gister tydens ’n virtuele sitting van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer versoek dat onverdedigde ontbossing in dié provinsie ondersoek en stopgesit moet word.
“Die VF Plus het onlangs besoek afgelê by Melkhoutwoud, geleë in Hermanus, sowel as by Schulphoek wat nou totaal en al vernietig is as gevolg van onwettige grondbesettings. Schulphoek is ’n landelike gebied wat aan die see grens, net suid en suidwes van die dorp, Zwelihle in Hermanus,” sê mnr. Peter Marais, VF Plus-LPW in die Wes-Kaap.
“Die indringing in die strandgebied waar geen ablusiegeriewe bestaan nie, geen vullisverwydering gedoen word nie en geen ander munisipale dienste gelewer word nie, is polities gemotiveerd en het geen plek in ‘n grondwetlike demokrasie nie.”
“Hierdie situasie is absurd en die VF Plus stem nie hiermee saam nie.”
“Die VF Plus wil daaraan herinner dat ‘n seeuitsig nie in die grondwet as voorskrif onderskryf word wat voldoende behuising aanbetref nie.”
Die party lê klem op Artikel 26(1) van die grondwet waarvolgens elkeen die reg het op toegang tot voldoende behuising en dat die staat redelike, wetgewende en ander maatreëls moet tref om binne sy beskikbare hulpbronne hierdie reg te verwesenlik.
“Dit is ’n feit dat grondbesettings ‘n geweldige bedreiging vir gewone verstedeliking en behuisingsbeplanning vorm. Elke stuk grond in hierdie land kan nie bloot net vir behuising gebruik word nie. Ander belangrike ontwikkelings soos fabrieke, skole, sake-ondernemings en kerke moet ook ontwikkel word.”
“Voldoende behuising moet aan inwoners verskaf word, maar nie ten koste van natuurlike hulpbronne wat vir ons nageslag beskerm moet word nie.”



