Chané Vertue (53), geliefde Kimberliet, was nie net ‘n ma en ‘n vrou nie, maar sy het vir menige inwoners van Kimberley die wêreld beteken.
Sy was die eienaar van Klere & Koskas Kimberley en sy het haarself daaraan toegewy om die minderbevoorregtes van kos en klere te voorsien.
Nikki Rautenbach, haar sussie, sê Chané het vir omtrent ses maande met ‘n naeltjiebreuk gesukkel. “Sy het gisteraand alreeds nie lekker gelyk nie. Sy het ons nie herken nie en sy kon niks geëet kry nie. Ons het haar dadelik hospitaal toe geneem. Sy het toe inwendig begin bloei en die dokters kon die bloeding nie stop nie. Sy het geveg vir haar lewe.”
Sy is gisteraand om 23:30 oorlede.
Rautenbach sê die familie het besluit om Saterdagoggend ‘n intieme familiebegrafnis te hou.
Chané word deur haar man, Pieter (66), en haar seun, Wayne (16), oorleef.



