Die Demokratiese Alliansie (DA) het vandag tydens ‘n gewone raadsvergadering in Sol Plaatje-munisipaliteit ‘n mosie ingedien vir ‘n onafhanklike ouditkomitee om die stad se hoë elektrisiteitstariewe dringend te ondersoek. Ons wil hê dat hierdie komitee binne sewe dae terugvoering aan die raad moet gee, waardeur ons ook wil hê dat die Raad die elektrisiteitstariewe moet hersien.
Dit is volgens Christopher Phiri, DA Koukusleier, Sol Plaatje-munisipaliteit
Phiri sê dit kom te midde van die onlangse voorleggings deur Andrẻ de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, dat Sol Plaatje die duurste elektrisiteit in die land het weens die verbysterende prysopslag van 84%.
“Alhoewel ons al lankal die gevolge van belaglike duur elektrisiteit in Sol Plaatje dra, het die ANC-munisipaliteit dit nog altyd reggekry om die aanspreeklikheid daarvoor te vermy. Hulle toon ‘n neiging om raadslede en inwoners slegs van selektiewe inligting te voorsien en manipuleer die situasie om verantwoordelikheid vir hul twyfelagtige besluite te ontduik.
“Die DA sal nie meer toelaat dat Sol Plaatje voortgaan om ‘n rat voor ons oë te draai nie. Weens De Ruyter se aanmerkings is ons vasbeslote dat die tariewe van Sol Plaatje deeglik ondersoek moet word en in ooreenstemming met die res van die land gebring word.
“Ons let daarop dat die speaker, Ingrid Koopman, beslis het dat die DA-mosie deur die kantoor van die waarnemende munisipale bestuurder, mnr Boy Dhluwayo, hanteer sal word. Ons hoop dat die ANC-beheerde administrasie nie die inwoners van Sol Plaatje-munisipaliteit in die steek sal laat nie en die aanbevelings van die mosie sal nakom.
“Intussen neem die DA môre deel aan ‘n dringende spesiale vergadering vir die finansiële komitee, waarvoor ons gevra het. Ons sal die omstrede elektrisiteitstariewe met die finansiële hoof, Zahid Cader, bespreek.
“Dit is tyd dat Sol Plaatje al die feite op die tafel plaas. Die DA verbind ons daartoe om oorlog te voer teen Sol Plaatje totdat Sol Plaatje-inwoners billike elektrisiteitstariewe betaal wat op ‘n deursigtige wyse goedgekeur word. Die ongeregtighede van ongesubstansieerde prysverhogings moet reggestel word.
“Dit is tyd dat die prysopslag van 84% teruggetrek word. Die krag, en mag, moet aan alle inwoners van Sol Plaatje herstel word.”
*mediaverklaring



