“Die Here het vir ons vrede gegee,” klink die bly stemme op in die gange van die hooggeregshof in Kimberley.
Richard Hasane (37), Tshame Frank Baxane (35) Zonizelo Richard Magawu (30), Thompson Mncedisi Mphondomisa (44) en Matthews Legodu (52) is vandag in die hooggeregshof in Kimberley gevonnis vir die moord op Johannes Baaitjies, DA-raadslid van Daniëlskuil, en Jeffrey Nous, ‘n familievriend.
Hasane is met 18 jaar tronkstraf vir die eerste moord en 18 jaar vir die tweede gevonnis. Baxane is twee keer lewenslank en nog vier jaar gevonnis. Magawu is twee keer lewenslank gevonnis. Mphondomisa is twee keer lewenslank en nog vier jaar gevonnis. Legodu is twee keer lewenslank gevonnis.
Dolf Lourens was die ondersoekbeampte in die saak en die verdagtes is in Meimaand skuldig bevind.
Regter-president Pule Tlaletsi van die hooggeregshof in Kimberley, sê die moorde, wat op 17 Augustus 2016 plaasgevind het, is goed vooraf beplan en deurdink. Die skuldiges het ’n nuwe SIM-kaart en lugtyd gekoop as deel van die beplanning. Johannes en Jeffrey is na Daniëlskuil gelok en vervoer is ook vooraf gereël.
Baaitjies is ’n dag voor hy as raadslid by Kgatelopele-munisipaliteit verkies sou word, ontvoer, in ’n motorvoertuig se kattebak inforseer en in sy kop en lyf geskiet. Hy het ook probeer om by die bewegende voertuig se kattebak uit te spring.
Nouse is in sy gesig geskiet, in ’n Ford Ranger langs die pad gevind en in die Robert Sobukwe-hospitaal in Kimberley opgeneem. Hy het op 23 Augustus 2016 aan sy beserings beswyk.
Die regter het verder gesê die maatskaplike werker het getuig Dora en hulle kinders het in ’n liefdevolle omgewing saam met Baaitjies gewoon. Hulle drie kinders is gelowing grootgemaak, met waardes en goeie verhoudinge tussen mekaar. Sommige van die skuldiges was aan die familie bekend en het selfs in dieselfde straat gebly. Die familie was ten tye van hulle onderhoude met die maatskaplike werker baie emosioneel en het onbeheerbaar gehuil.
Lebohang Nouse, Jeffrey se ma, sê sy is bly die skuldiges het so lank tronkstraf gekry. “Hulle straf sal net ongelukkig nie my kind terugbring nie.”
Dora Baaitjies, Johannes se vrou, sê sy is net so verlig dat hulle lewenslank gekry het. “Weereens, ek sal my man net nooit terugkry nie. Mens hoop maar dat dinge so met die jare beter sal word.”



