Werkers wat ‘tools down’: Die storie agter die storie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Werknemers by Fishaways in Monument Hoogte het gisteroggend die kitskosrestaurant se deure toegemaak omdat hulle gevoel het hulle soek antwoorde oor “waar die res van hulle Covid-19-uitbetalings is.”

Werknemers was sielsongelukkig en volgens een van hulle is daar sommige werknemers wat baie minder as hul beloofde R3 500 ontvang het. Volgens ‘n ander werknemer het hulle ‘n vergadering met die bestuurder aangevra, maar hy het glo nie opgedaag nie.

FiND iT het gesels met JP Smit, algemene bestuurder by Fishaways, Debonairs en Steers, wat vir ons vertel wat gebeur het en wat die oproer veroorsaak het.

“Wat die oproering veroorsaak het, is die SACOUA-unie se leier wat in die vergadering tussen ons en die werknemers kom sit het. Aangesien geeneen van die werknemers aan die unie ledegeld betaal nie, het ek gevoel hy het geen plek in die vergadering nie. Dis wat die oproer veroorsaak het.”

Volgens Smit het hy en Johan van Dyk, die eienaar, die probleme uitgestryk en die werknemers is nou weer gelukkig.

“Ons almal weet die UIF-kantore is agter met die uitbetalings. Sodra ons die geld ontvang, betaal ons dit aan ons werknemers oor.”

Smit sê omdat hulle aan die begin van die inperking toegemaak het, het werknemers vir die 38 dae wat hulle nie by die werk was nie, hulle R3 500 Covid-19-WVF ontvang. Toe die besighede egter weer op 1 Mei oopgemaak het, het die werknemers weer volgens hulle ure gewerk. “Met Junie se geld wat ons nou in Augustus eers ontvang het, het ons die werknemers volgens die ure wat hulle gewerk het, betaal. Daar is geen rede vir die ongelukkigheid nie. Ons sal nooit geld net vat nie.”