KIMBERLEY – Jaco Wilkens (45), eienaar van E and A Protection Services, asook een van sy sekuriteitswagte, het vandag in die Kimberley-landdroshof verskyn nadat lede van Psira hulle in hegtenis geneem het.
Dieselfde het met Goodwill Sacks, direkteur van SGS Security, gebeur. Hy en twee van sy sekuriteitswagte is ook gister deur lede van Psira in hegtenis geneem.
Psira is die regulerende owerheid vir privaat sekuriteitsbedrywe, wat seker maak dat alle partye geregistreer is, die regte opleiding kry en dienste gelewer word.
Daar is geen rede vir inhegtenisneming op die verklaring aangedui nie.
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie was nie deel van die klopjag nie.
FiND iT het navraag by die polisie gedoen oor hoe en hoekom Psira-lede mense in hegtenis kan neem, asook hoe dié mense dan toegesluit is.
Volgens hofverrigtinge is daar verklarings en ook die SAPS 69-dokument uitstaande. Die saak is uitgestel tot 23 September 2020.



