Dit is doodstil. Al wat ’n geluid maak, is die windjie wat deur die kaal mure suis. Die chaos wat ’n paar dae vantevore geheers het, is nou ’n ding van die verlede. Oral waar mens kyk, lê daar as, roet en glas. Die puin van die gebeure is duidelik sigbaar. Dit is ’n bewys van ’n lewe aan skerwe.
Die March-gesin het Sondag 2 Augustus 2020 alles verloor toe hul huis op Disokobolos-militêre basis afgebrand het. Suzette March (40) vertel hartseer hoe sy en haar man op die stoep gesit het toe die brand omstreeks 16:00 uitgebreek het. “Die brand het glo as gevolg van bedradingsprobleme by die hoofskakelaar begin. Die motorhuis het eerste vlam gevat.”
“Ons is baie gelukkig die brand het nie in die nag terwyl ons slaap ontstaan nie. Ons kon almal dood gewees het. Ons het als verloor.”
Die gesin se huis is heeltemal deur die brand verwoes. Die kombuis, sitkamer, beddens en die gesin se klere is alles tot niet. March het rook ingeasem, maar die res van die gesin is ongedeerd.
Volgens March is haar huis reeds die sesde een wat in ’n kort rukkie afbrand. Sy glo dit is as gevolg van bedradingsprobleme by die huise van die militêre basis. “Ek het altyd gewonder wie se huis gaan volgende wees, min wetend dit gaan ons gesin tref.”
March en haar gesin bly tans by ’n vriendin omdat daar geen ander behuising op die basis beskikbaar is nie. “Hulle het gesê hulle sal dit uitsorteer, maar kom nie terug na ons toe nie.”
March beweer ook dat daar niks aan die probleem gedoen word nie. Daar is reeds deur menige mens gevra dat daar na die huise se bedrading gekyk word, maar dit val op dowe ore.
Die bestuur van die Diskobolos kon nie vir kommentaar bereik word nie.








