Volgens navorsing wat die afgelope vyf jaar deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) gedoen is, is meer as 40% van Suid-Afrikaanse moeders enkelouers.
Ongeag of enkelmoederskap bedoel is of nie, is die koste daaraan verbonde besonder hoog. Om ‘n kind op een inkomste groot te maak, is moeilik, en in Suid-Afrika is hierdie scenario meestal op vroue van toepassing. Die voordele om reg van die begin af ‘n betroubare finansiële beplanner te raadpleeg om behulpsaam te wees met ‘n praktiese plan wat op ‘n holistiese siening van die ouer se finansies gegrond is, kan nie oorbeklemtoon word nie.
Die druk van enkelouerskap maak dit vir enkelmoeders noodsaaklik om so vroeg moontlik te begin spaar om hulle te help om moontlike toekomstige finansiële druk te hanteer. Enkelmoeders het beplanning en struktuur nodig om die eise van werk en kindgrootmaak die hoof te bied. As gevolg van die las van bykomende uitgawes in vergelyking met dubbelinkomstegesinne is dieselfde beplanning op hul finansies van toepassing. Die koste verbonde aan gespesialiseerde swangerskappe, deurlopende uitgawes soos dagsorg en langtermyndoelwitte soos ‘n kind se opvoeding, kan die algehele finansiële druk op ‘n enkelmoeder vergroot.
Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se 2020 Wêreldwye Verslag oor Geslagsaping raam dat mans en vroue oor 257 jaar gelyke vergoeding sal ontvang. Dit veroorsaak meer druk op enkelmoeders, veral om behoorlike finansiële beplanning te hê.
‘n Paar wenke vir finansiële en algemene beplanning vir enkelmoeders:
- Geen bedrag is te klein nie: Die uitwerking van saamgestelde rente beteken dat hoe vroeër daar vir die koste verbonde aan ouerskap begin spaar word, hoe beter die opbrengs. ‘n Belastingvrye spaarrekening kan ‘n goeie opsie wees weens die belastingvoordele wat dit bied.
- Maak die beste gebruik van kraamverlof: Probeer om geld te spaar om jou inkomste tydens kraamverlof aan te vul, omdat jy nie ‘n volle inkomste van jou werkgewer of die WVF gaan ontvang nie. Tydelike inkomstebeskerming wat swangerskapverwante gebeure dek, bied dekking as jy tydens swangerskap van die werk af moet bly of om mediese redes jou kraamverlof moet verleng.
- Prioritiseer jou behoeftes: Moenie dat die koste van kindgrootmaak jou toekomstige finansiële welsyn in gevaar stel nie. Werk met ‘n finansiële adviseur saam om te verseker dat jy in jou korttermynbehoeftes voorsien terwyl jy steeds vir langtermyndoelwitte soos aftrede spaar.
- Kry betroubare hulp: Kindgrootmaak is waarskynlik een van die mees bevredigende én stresvolle ervarings van jou lewe. Enkelouers moet probeer om die beste moontlike ondersteuningsnetwerke, soos babawagters of ondersteuningsgroepe vir enkelouers, te hê.
- Betrek jou kinders: Betrek jou kinders by die huishoudelike begrotingsproses sodra hulle die betekenis van begroting kan verstaan.
Om ‘n kind groot te maak, is duur; dit kan selfs moeiliker wees op een inkomste. Dit is dus raadsaam om ‘n finansiële beplanner vir finansiële leiding te raadpleeg en om ‘n praktiese finansiële plan vir die toekoms in plek te plaas.
Kontak:
Martha Jansen: 062 736 4660
E-pos: [email protected]
Sanlam is ‘n Gelisensieerde Finansiëlediensteverskaffer.



