Die polisie het vanoggend sewe verdagte dwelmhandelaars, wat vir ’n geruime tyd al onder die polisie se radar was, in hegtenis geneem.
Die polisie op Kakamas het die onwettige handel in dwelms in die ZF Mgcawu-distrik dopgehou en het vanoggend sewe verdagtes in hegtenis geneem, sê brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder.
Die sewe verdagtes tussen die ouderdomme van 23 en 37 is by drie verskillende wonings op Kakamas gearresteer. Die polisie het Mandrax-tablette, dagga en tik ter waarde van R40 000, ’n groot som geld, vervalsde geld, drie selfone en ’n weegskaal gekonfiskeer.
Die verdagtes verskyn binnekort in die Kakamas-landdroshof. Die ondersoek duur voort.









